Ovis Angelica

Divine Sheep's Cheese

Hemelse skaapmelkkaas

Elmarie van Aswegen

Ovis Angelica - hemelse skaapmelkkaas

Deur Theuns Botha

Spiritueel en onkreukbaar as dit by besigheid kom, het 'n Vrystaatse vrou teen alle verwagtinge in die eerste geregistreerde melkskaapkudde in Suid-Afrika suksesvol gevestig. Haar skaapmelkkaas is ook al met 'n rits...

gesogte suiweltoekennings bekroon. En dít is maar net die begin vir 'n vrou wat na die sterre reik.

Met die groetslag by die tuinhekkie op Patria in die distrik Smithfield kom jy dadelik agter dit is 'n formidabele vrou wie se hand jy skud. Hoewel 'n meester op haar vakgebied, is daar 'n sagtheid in haar stem wanneer ons tussen die skape loop om foto's te neem. Iemand wat vertroue inboesem. Later, wanneer me. Elmarie van Aswegen (41) haar lewensverhaal om die kombuistafel vertel, word die aanvanklike indrukke bevestig.

Versot op James Bond-boeke, het sy drome gehad om sélf eendag 'n geheime agent te word. Toe sluit sy by die Suid-Afrikaanse Leërvrouekollege op George aan en doen aansoek om 'n betrekking by militêre inligting.

Haar hart het gebons toe die oproep kom oor wanneer sy diens moes aanvaar. Weke later, 'n brief in die pos. Haar aansoek – sonder die verskaffing van enige redes – is afgekeur. Verpletter het sy besluit om aan Kovsies te gaan studeer. Met 'n BA-graad het sy 'n betrekking by die departement van menslike hulpbronne in die destydse Kaaplandse Provinsiale Administrasie aanvaar. As jongste en enigste dogter in 'n gesin van vier kinders het sy in Maart 1997 na die familieplaas teruggekeer.

Dit was haar hoof, mnr. Robey Leibbrandt (seun van die befaamde pa met dieselfde naam) wat die saadjie vir die kaasmakery geplant het. Hy het by haar ingeprent hoe belangrik waardetoevoeging is om op 'n plaas staande te bly.

Tydens 'n kaasmaakkursus by me. Joan Berning van Finest Kind op Plettenbergbaai, het dié aan Elmarie genoem dat daar nog niemand in Suid-Afrika is wat skaapmelkkaas vervaardig nie.

"Ek het byna op my rug geval toe ek hoor skape kan óók gemelk word. Op die internet het ek toe vasgestel dat die Oos-Fries, 'n melkskaap wat sy oorsprong in die noordelike deel van Nederland het, as die koningin van melkskape beskou word."

Haar geesdrif om dié skaap dadelik in te voer, is egter deur mnr. Keith Ramsey, destydse Registrateur van Veeverbetering in Pretoria, kortgeknip. Ietwat uit die hoogte het hy haar in 'n skrywe meegedeel dat dit nié 'n erkende ras in Suid-Afrika is nie en hy haar dus nie gaan toelaat om die skape in te voer nie. Onder aan die brief was egter 'n naskrif: "Die versoek sal moontlik heroorweeg word míts 'n volledige biologiese impakstudie deur 'n tersiêre inrigting gedoen word."

Gewapen met dié brief het Elmarie by haar alma mater gaan aanklop. Sy het prof. Johan Greyling, hoof van dierereproduksie aan die departement veekunde, in 'n gang raakgeloop. "Hy het net 'n frons op sy voorkop gekry toe ek hom van my planne vertel. Sy presiese woorde was: 'Ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie. Jy moet maar sélf die studie gaan skryf."

So gesê, so gemaak. 'n Paar weke later was die impakstudie op mnr. Ramsey se tafel. Intussen het sy gehoor van 'n kudde Oos-Friese in Nieu-Seeland wat te koop was. Die registrateur se voorwaarde was dat die teelmateriaal slegs ingevoer kan word míts dit deel van 'n universiteit se navorsingsprojek sou wees en die skape by SA Stamboek geregistreer word.

"Boere het vir my gelag. Jy ken mos die ding van 'n manlike ego. Omdat dit te duur sou wees om die lewende skape in te voer, het my mentors by die universiteit aanbeveel dat ek met kruisteling begin. Hul voorstel was dat die vetstert-Afrikaner-, Afrino- en die Merinolandskaapooie wat reeds op die plaas was, as basis gebruik word en met ingevoerde Oos-Fries- ramsaad geïnsemineer word. Die nageslag kon dan as die SA Melkskaap by Stamboek SA geregistreer word."

Sonder 'n inkomste en reeds met duisende rande se skuld, het Elmarie die pensioengeld wat sy met haar bedanking ontvang het, in die projek ingeploeg. Sy het ook haar huis in Kaapstad verkoop. "Die ergste was dat my pa, wat op die plaas boer en aan wie die grond behoort, voortdurend die doelpale verskuif het."

In 2001, toe die skape reg was om te melk, moes daar 'n fabriek op die plaas opgerig word. As vrou, en sonder sekuriteit, was finansiële instellings nie bereid om te help nie. Ten einde raad het Elmarie by Khula, 'n instansie wat hoofsaaklik sekuriteit aan opkomende entrepreneurs beskikbaar stel, se deur gaan aanklop om borg te staan vir 'n banklening van R180 000. Toerusting om die skape te melk, soos die kloustukke, moes ingevoer word.

"Dit was my grootste oomblik toe ek self, voordat die melkmasjiene geïnstalleer is, die eerste 60 ooie met die hand in margarienbakkies gemelk het."
Die kaas wat Elmarie volgens organiese boerderybeginsels maak en aanvanklik onder die handelsnaam ProdPatria bemark het, was die Midde-Oosterse Labneh. Dit is 'n jogurtkaas wat veral in Palestina gewild is. Dit is gevolg deur Haloumi (oorspronk-lik van Ciprus), Pecora Africana (Italië) en haar bekroonde JanGroentjie (laventel).

Dit was tydens 'n lesing in 2001 by die All Africa-suiwelekspo in Bloemfontein dat die winkelgroep Woolworths van haar te hore gekom het. Die volgende oggend het hulle die plaas besoek. Met die kaas wat intussen in die fabriek begin ophoop het en sonder inkomste, kon sy nie langer wag om van dié winkelgroep te hoor nie. Met 'n bakkie vol skaapmelkkaas het sy in die pad geval Johannesburg toe.

"Ek het nie 'n benul van bemarking gehad nie. Sommige restaurant-eienaars het my afgejak. Ander was gaande oor die kaas. Aan die einde van die jaar het Woolworths laat weet dat ek aan hulle kan lewer." Dit het voor die wind gegaan en die geld het eindelik ingekom. Maar toe tref 'n amperse ramp haar. Vroeg een oggend het sy gemerk dat die Labneh in die botteltjies begin fermenteer.

"Omdat ek net die reguit pad ken, het ek die kaas na die departement mikrobiologie by die universiteit geneem om te ontleed. Toe ek hulle verslag ontvang, het ek dadelik vir Woolworths gebel. Mnr. Mof van Eeden, 'n afgetrede gehaltebestuurder van Clover en 'n legende in die suiwelbedryf, het die plaas besoek en verduidelik hoe dit reggestel kon word."

Teen 2004 was Woolworths, wat die kaas onder hul eie handelsmerk verkoop het, haar grootste kliënt. Met die skerp styging in lewenskoste, en ook omdat sy die enigste kommersiële verskaffer van skaapmelkkaas in die land is, het hulle in Mei vanjaar laat weet dat hulle nie die kontrak gaan hernieu nie. Dié besluit van die maatskappy se bestuur het egter ook 80 ander verskaffers van nisprodukte aan dié groep geraak.

Gelukkig was Elmarie daarvoor gerat. Sy het verlede jaar reeds die naam van haar onderneming, asook die logo van ProdPatria na Ovis Angelica verander (Latyn: ovis = skaap). Dit is vanjaar tydens die kaasfees op Bien Donné bekend gestel. Haar kaas is al verskeie kere bekroon. Verlede jaar is haar Labneh aangewys as SA kampioen en die JanGroentjie as reserwekampioen tydens die SA suiwelkampioenskapsbyeenkoms. Sy het ook in 2003 en 2005 Slow Food-toekennings ontvang.

Hoewel daar tans 'n swaard oor haar kop hang oor die grond waarop sy haar onderneming bedryf, gaan dit haar beslis nie onderkry nie. Ná 'n uitgebreide besoek aan verskeie kaasmakers in Europese lande, wil sy haar reeks uitbrei en onder meer grotkaas die lig te laat sien. Oor die res hou sy vir eers die sluier dig.

Elmarie wat 'n groot belangstelling in metafisika en die esoteriese het, is in 2005 as die Vrystaatse Vroueboer van die Jaar (afdeling nasionale markte) aangewys. Sy het intussen ook haar magistergraad in volhoubare landbou aan Kovsies verwerf. Met agt heeltydse werkers in diens, wil sy 'n vereniging tot stand bring wat as die Suid-Afrikaanse melkskaapvereniging (met internasionale akkreditasie) bekend sal wees. Sy wil ook 'n waarmerk vir egte skaapmelkkaas daarstel om te verseker dat mense dit nie met bokmelkkaas verwar nie.

Elmarie boer kommersieël met Afrino-skaap en is ook besig om haar koeikudde uit te brei. "Die idee is om goeie suiwelprodukte aan die verbruiker bekend te stel sonder die gebruik van chemikalieë. Al die beesmelkkaas in die land word met behulp van kalsiumchloried en salpeter vervaardig. Ek weier om dit in my produkte te gebruik."

Volledige besonderhede van haar verskillende soorte kaas en die gesondheidsvoordele van skaapmelkkaas kan op die webwerf by www.sasheepdairy.co.za besigtig word.

Navrae: Elmarie van Aswegen, tel. 051 713 7091 of selfoon 082 412 3787