Ovis Angelica

Divine Sheep's Cheese

Landbouvroue-entrepreneur 2008/9

Elmarie van Aswegen

Entrepreneur Vroumense in Landbou

Finaliste - Elmarie van Aswegen, Smithfield

Pure vasberadenheid het Elmarie van Aswegen, melkskaapboer van Smithfield, gebring tot waar sy vandag is. Alles was teen dié voormalige weermaglid toe sy in 1997 na die familieplaas teruggekeer en wou begin kaas maak:

die vee wat sy wou aanskaf, was onwettig, en daar was geen impakstudie waarmee sy die invoer van die Oos-Friesskaapras kon regverdig nie. Selfs nadat sy die impakstudie sélf geskryf het, kon sy slegs teelmateriaal invoer mits dit in samewerking met 'n universiteit se navorsingsprojek geskied!

Dié teenslae was nie genoeg om die saadjie wat tydens 'n kaasmaakkursus by haar geplant is – om Suid-Afrika se eerste skaapmelk-kaasmaker te word – te keer nie. Haar kruisgeteelde vee was teen 2001 uiteindelik gereed om gemelk te word. Maar Elmarie was steeds sonder kaasmaaktoerusting – of geld.

Met 'n lening van R180 000 van Khula kon sy toerusting koop en die eerste melk in margarienbakkies opvang – 'n groot oomblik vir haar. Van hier het sy met geesdrif organiese kaas begin maak en sommer die bemarking tromp-op eloop deur reguit na Johannesburgse restaurante af te sit en direk dié gesogte produkte te verkoop.

Gou het die toekennings begin inrol: SA Kampioen vir haar JanGroentjie-kaas, en Slow Food-toekennings asook Vrystaatse Vroueboer van die Jaar-toekenning in 2005. 'n Kontrak met Woolworths het gevolg, asook haar stigting van Suid-Afrika se melkskaapvereniging met sy eie waarmerk. En dit so tussen 'n Magistergraad in volhoudbare landbou deur!